Dokumente
Meer Inligting

 

Weereens is nog ‘n geslaagde Santam Landbou Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar gedurende April 2009 aangebied en het mnr LPJ Fourie van Philippolis as wenner uit die stryd getree. 
 
2010 Is ‘n groot jaar vir die Vrystaat Landbou Jongboer Komitee. Nie net word die 25ste Jongboer Konferensie gehou nie, maar is dit ook die 15de bestaansjaar van die Jongboer van die Jaar Kompetisie. Vorige finaliste en wenners is en was jongboere uit u omgewing wat diep voetspoere in hul Boereverenigings, distrik en Vrystaat Landbou geloop het en nog steeds loop.
 
Die Jongboer van die Jaar Kompetisie het onder andere ten hoofdoel selfbemagtiging asook wat die jongboer in sy boerdery doen en toepas. Kriteria is die volgende:
Die belangrikste maatstawwe vir beoordeling hou verband met die bestuursfilosofie van die boer sowel as die tegniese vaardigheid waarmee daardie filosofie in die praktyk toegepas word. Kortliks beteken dit dat die volgende aspekte van belang is:
1) wat die boer doen;
2) waarom hy dit doen; en
3) watter alternatiewe beskikbaar is. 
Alhoewel die vertakkingsamestelling en omvang (grootte) van die kandidaat se boerdery-aktiwiteite in ag geneem word, is die mate waarin die boer se bestuursfilosofie op uitnemende wyse in die praktyk uitgevoer/toegepas word eerder bepalend. 
 
Die beoordelingsproses geskied met verwysing na die volgende hoofafdelings, naamlik:
·         Toekomsbeeld van die kandidaat;
·         Begroting, rekords, finansiering, beleggingsfilosofie en liasseerstelsel (insluitend die insig van die kandidaat daarin);
·         Produksie: vee (tegniese aspekte, bv. telingstelsel, voeding, siektebeheer, weidingstelsel, voervloei, ens.) en/of gewasse/boorde (tegniese vaardigheid en filosofie t.o.v. kultivars gebruik, plantspasiëring, bemesting, onkruidbeheer, entomologie, plantpatologie, bewerkingspraktyke, ens.);
·         Bemarkingsfilosofie en -praktyke (insluitend verwerking (indien van toepassing), kontrakte, risikoverskansing, ens.);
·         Onderhoudsbeleid en –praktyke;
·         Personeelpraktyke, arbeidsfilosofie en behuising;
·         Betrokkenheid by georganiseerde landbou en die gemeenskap; 
·         Professionele profiel van die kandidaat. Die “professionele profiel” word saamgestel met inagneming van die volgende faktore/onderafdelings:
  • Veranderinge wat deur die kandidaat self teweeggebring is (indien plaas geërf is of indien dit in vennootskap met andere bedryf word);

  • In welke mate die beoordelaars se vrae beantwoord word en die insig van die kandidaat;

  • Hoe die kandidaat die besoek gestruktureer het (Wil die boer die besoek afjaag? Watter fasette van die boerdery word selektief uitgewys? ens.);

  • Navorsing en proewe wat gedoen word en die blootstelling van die kandidaat op nasionale en/of internasionale vlak;

  • Uitleg (doeltreffendheid) en voorkoms van werf en plaas;

  • Houding en aksies met betrekking tot grondhervorming en swart ekonomiese bemagtiging;

  • Omgewingsvriendelike praktyke wat ‘n impak het op die langtermynoorlewing van die boerdery.

 

Die Santam Landbou Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar 2010 gaan weereens ‘n glansgeleentheid wees. In u Boerevereniging en distrik is jongboere wat aan bostaande kriteria voldoen.  
Die sluitingsdatum vir inskrywings het op 31 Januarie 2010 gesluit.  Die eerste beoordelingsrondte het op 5 Februarie 2010 plaasgevind.  Die kompetisie is, soos enige ander jaar, sterk en die beoordeelars het behoorlik kopgekrap.
Uiteindelik is die 4 finaliste aangewys en vind die plaasbesoeke op 24 en 25 Februarie 2010 plaas:
Jaco Maritz - Memel
Jaco Swart - Vredefort
Jan Scheepers - Fouriesburg
Piet Delport - Wesselsbron
 
Indien u enige verdere navrae het, is u welkom om ons kantore te kontak.
Kopiereg Vrystaat Landbou Terms Of UsePrivacy Statement
SENWES This website is hosted and maintained by SENWES Ltd.
www.senwes.co.za